Die eerste deel van Psalm 19, verse 1-7, sing oor hoe God Hom deur sy skepping openbaar.
Die tweede deel van Psalm 19, verse 8-12, sing oor hoe God Hom deur sy Woord openbaar.
Kom ons staan net stil by die eerste deel…
Die skeppingsverhaal van Genesis 1 het telkens gesê:
“Dit het aand geword, en dit het môre geword.
Die verhaal sê ook : “Dit was die eerste dag”, “Dit was die tweede dag”….
Die skrywer van hierdie Psalm sê nou hoe die skepping as’t ware
daarna bly getuig het in sy voortgang.
God het die eerste dag en nag gemaak, en van daardie dag en nag af,
vertel elke ou dag aan die nuwe dag: God het ons gemaak.
Dag een vir dag twee, vir dag drie…tot vandag toe, sê vers 3.
Hulle doen dit nie met ‘n stem wat ‘n mens kan hoor nie,
nie met woorde nie…vers 4.
Die blote feit dat dit lig word,dat ‘n nuwe dag breek, sê:
Dit is die werk van God!
Elke dag sprei die boodskap uit!, vers 5.
Die boodskap dat hierdie wêreld God se wêreld is!
Twee dinge is opmerklik.
Die eerste is dat lig en donker tyd uitmeet. (Gen. 1:16-18).
Daarom is jou tyd in die skepping ‘n geskenk van God!
Elke nuwe dag is genadetyd!
Die manier hoe jy hierdie tyd uitleef, moet ook die lof van God verkondig!
Selfs al sê jy, soos in vers 4, niks nie.
Jou lewe is, soos die skepping, ‘n sigbare onweerlegbare getuienis van God.
Die tweede opmerklike is daarom dat ‘n mens nie heeldag hoef te loop en preek nie.
Deur doodgewoon te wees wat God jou gemaak het,
soos die son maar net is wat God hom gemaak het,
getuig jy Wie die skepper God is,
versprei jy die boodskap oor God deur jou hele lewe,
in jou hele konteks!
Lééf so!...dat dit waar is van jou lewe!
Ernest