Ja, jy kan gerus weer Psalm 23 uit jou kop uit leer.
En bid dit so, oral waar jy leef.
Dit is dikwels beskou as die pêrel van die psalms.
Dit is ‘n psalm vir alle lewensomstandighede.
Nie net ‘n mooiweer psalm nie.
Dit is ‘n psalm vir groen weivelde en waters waar vrede is, vers 2.
Maar dit is ook ‘n psalm vir donker dieptes, vers 4.
Baie mense loop en fluit as hulle bang is, of om te wys hulle is nie bang nie.
Psalm 23 is nie ‘n fluitdeuntjie vir bang mense in bang omstandighede nie.
Dit is ‘n vertrouenslied wat uit ervaring saam met God gebore is.
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”, vers 1.
Soos ‘n herder sy skape oppas, so laat die Here my nooit alleen nie.
“Hy gee my nuwe krag”! Altyd!
Ek kan nie verdwaal nie, want “Hy lei my op die regte paaie.”
Hy sorg vir my. Hy beskerm my.
Selfs al voel dit vir my of dit nagdonker is, en al voel ek bang,
is Hy altyd naby my om te keer dat ek val.
Daarom sal ek ook in donker dieptes nie bang wees nie.
Want by Hom, en in sy hande is ek veilig.
Ek is baie spesiaal vir Hom. Baie spesiaal.
Hy behandel my soos ‘n eregas, vers 5.
Hy laat my altyd welkom voel aan die feesmaal,
selfs al het ek verbrou.
Ek kan altyd by Hom gaan skuil.
Dit is waarom ek vir altyd by Hom wil bly.
Dit is wat Psalm 23 sê.
Dit is nie net ‘n mondvol nie, maar ‘n lewe vol!
Ons moet hierdie psalm leer, en altyd weer opsê.
Dan hoef jy nie te loop en fluit nie, omdat jy dalk bang is nie.
Want dan sal jy weet, en beleef, hoe naby God aan jou is!
Ernest