God kan niks doen wat in konflik met sy heilige karakter is nie.
Aangesien Hy in sy wese heilig is, is al sy hoedanighede ook volmaak.

Jesaja 6:3 sê:
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

As heilige God is Hy volmaak in regverdigheid.
Ons kan onsself aan Hom onderwerp,
met die wete van wat Hy aan Abraham gesê het:
“Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”, Gen. 18:25.

As heilige God is Hy volmaak in geregtigheid.
Voor die groot wit troon sal die bose geoordeel word,
“volgens wat hy gedoen het”, Openb. 20:13.
En kinders van God het vryspraak in Christus!

As heilige God is Hy volmaak in eerlikheid.
Ons kan God volkome op sy woord neem!
Numeri 23:19 sê:
“God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie….
sou Hy iets sê en dit nie doen nie,
iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

As heilige God is Hy volmaak in getrouheid.
Klaagliedere 3:22-23 bevestig dit en ons kan saam met dit getuig!
“Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.”

Ons heilige God is volkome regverdig.
Hy is volkome in geregtigheid.
Hy is volmaak in eerlikheid.
Hy is volmaak in getrouheid.
Hy is God en Hy is heilig.
Dit is Hom wie ons aanbid!

Ernest