Alleen God, die ontsaglik Heilige, is ons aanbidding waardig.
Hy is ons Skepper, Onderhouer, en Verlosser.
Sonder sy liefde en versorging sou ons geen hoop kon hê nie.
Daarom moet ons Hom aanbid en eer aan sy Naam toebring.

Toe Jesus in Johannes 4:24 met die Samaritaanse vrou gepraat het, het Hy gesê:
“God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die gees en in waarheid aanbid.”

In die boek “The Practice of the Presence of God”,
skryf broer Lawrence wat dit beteken om “deur die gees en in waarheid” te aanbid:
“Om God in waarheid te aanbid is om in te sien wat en Wie Hy is;
dit wil sê dat Hy onbeskryflik volmaak en waardig is om aanbid te word,
dat Hy volkome van alle sonde verwyder is,
en dat hy in al sy eienskappe volkome heilig is.”
Broer Lawrence sê verder:
“Watter mens sal daar dan wees, hoe klein sy verstand ookal is,
wat nie alles wat hy het en al sy kragte sal inspan,
om eer en lof aan hierdie God toe te bring nie?”

Ons moet onsself ondersoek.
Is dit die eerbied en liefde wat ons vir die Here se heiligheid het?
Aanbid en eer ons Hom regtig uit die diepte van ons bestaan?
Met ons hele hart, hele siel, hele verstand, en al ons krag?
Erken ons voor Hom wie ons is?
En erken ons Hom vir Wie Hy is?

Ernest