Nadat Jesaja bewus geword het van God se heiligheid,
roep hy in Jesaja 6:5 uit:
“Dit is klaar met my, ek is verlore!”
En aan die einde van sy lyding het Job ook in Job 42:6 erken:
“Nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.”
En ook Johannes die Doper het in Matteus 3:11 gesê:
“Hy wat ná my kom, is my meerdere,
en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie.”
‘n Gesonde besef van ons onwaardigheid,
help ons om die Here meer opreg te aanbid.
Met hierdie onwaardigheid word nie bedoel om God se
herskeppingswerk in ons minder te maak as wat dit is nie!
Paulus het ook gesê ons moenie van onsself meer dink
as wat ons behoort te dink nie.
Die opsigter by Beethoven se huis,
het ‘n klompie toeriste na ‘n statige ou klavier geneem.
Hy het die kleed van die klavier afgehaal en met eerbied gesê:
“Dit was Beethoven se klavier.”
‘n Jong dame het op die stoeltjie gaan sit,
en begin om een van Beethoven se sonatas te speel.
Toe sy klaar is het sy selfvondaan omgeswaai,
en vir die opsigter gesê:
“Ek neem aan baie mense wat hier besoek aflê,
speel graag op Beethoven se klavier.”
Die opsigter het geantwoord:
“Wel dame, nie regtig nie.
Verlede somer was die wêreldbekende Paderewski hier,
en sy vriende wou gehad het hy moet iets speel,
maar hy het geweier en gesê:
“Ek is nie waardig nie.”
Namate ons geestelik groei,
en al hoe meer aan die beeld van Christus gelyk word,
word ons ook meer en meer van ons eie sonde bewus.
Hierdie paradoks gebeur nie as gevolg van morbiede introspeksie nie.
Dit is verseker ook nie die gevolg van ‘n swak selfbeeld nie.
Dit is eenvoudig ‘n eerlike erkenning van wie ons is, en Wie Christus is!
En dit help ons om nog meer te verlang om meer en meer sy beeld te vertoon,
en Hom nog meer te aanbid vir Wie Hy is!
Ernest