Die Apostel Paulus het die begeerte gehad om as vry man na Rome te gaan.
Hy wou die evangelie daar gaan verkondig!
Maar hy word egter as ‘n gevangene daarheen geneem.
Dinge verloop heel anders as wat hy begeer of beplan het.
Dit lyk dus of hy in sy eerbare voorneme misluk het.
Uit die huis waar hy gevange gehou is,
het hy egter steeds getrou die evangelie verkondig.
Selfs sy wagte hoor dit, en sou dit moontlik andersins nie hoor nie.
Hy het ook vanuit die gevangenskap baie van sy kosbare briewe geskryf.
Daarom kon hy aan die Christene in Filippi in Filippense 1:12 skryf:
“Wat my oorgekom het, het juis die verkondiging van die evangelie bevorder.”
Wanneer ons goedbeplande eerbare pogings skeefloop,
moet ons die sogenaamde “mislukkings” evalueer,
en die stappe doen om die beste daarvan te maak,
soos wat Paulus gedoen het.
Indien ons ontdek dat ons fouteer het,
of nie die Here “reg” gehoor het nie, kan ons dit regstel.
Maar ons gebrek aan sukses,
kan ook wees as gevolg van omstandighede buite ons beheer.
Ons kan dan let op wat die Here ons daardeur wil leer.
Ons kan Hom ook vra en vertrou,
om die beste uit ons teleurstellings na vore te bring,
ter wille van sy koninkryk.
Dan is ons ook minder selfgerig.
Dan maak ons die beste gebruik van elke geleentheid.
Al loop dit ook heel anders as wat ons verwag het.
Ernest