Die aantrekkingskrag van iets beter is reddend en bevrydend.
Neem nou maar in die diereryk die gebeure
rondom die boggelrug walvis “Humphrey”.
Hierdie 15 meter lange walvis van 45 ton,
het om een of ander rede ‘n onverwagse draai langs
die kus van Kalifornië gaan maak.
Dit het San Francisco baai binnegeswem.
Onderdeur die Golden Gate brug,
en vir ongeveer 200 kilometer stroomop met die rivier!
Vir meer as drie weke het alle pogings om hom
terug te kry by die soutwater misluk.
Uiteindelik het see-bioloë hom met opnames
van boggelrug walvisse teruggelok na die soutsee toe.
Dit was opnames van boggelrug walvisse wat lekker eet!
Die aantrekkingskrag van iets beters,
was vir hierdie walvis reddend en bevrydend.
Wanneer ons die blydskap ervaar van verlossing,
dan moet ons dit ook so met mense deel en dit so uitleef,
dat dit hulle trek na iets beter, na dit wat reddend en bevrydend is!
Kyk wat sê Psalm 51:14-15:
“Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is….
dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag.”
Deur die Heilige Gees maak God die lewens van sy kinders só,
dat hulle vir ongelowiges aantreklik lyk,
en dat ongelowiges ook dit wil hê wat hulle by God se kinders waarneem.
Die Gees van God bring hierdie oortuiging en verlange by hulle.
Daarom moet ons onder leiding van die Heilige Gees leef en praat.
Ons moet nie veroordelend of hoogmoedig teenoor ongelowiges optree nie.
Dit kom verseker nie van die Heilige Gees nie.
Die Gees bring liefde, vreugde en vrede.
Hierdie “geluide” lei, soos met die walvis, mense na die Here!
Dit bring bevryding en redding, soos met die walvis.
Wees so ‘n visser van mense!
Ernest