Paulus sê in Romeine 12:3:
“Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek…
Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.”

‘n Man wat verkies was tot die Britse parlement,
het sy familie na London gebring vir ‘n toer deur die stad.
Toe hulle deur Westminster Abdy stap,
was sy dogter oorweldig deur die gebou waar haar pa sou werk.
Haar baie trotse pa vra toe selfvoldaan:
“En waaraan laat dit jou nou dink my kind?”
Hierop antwoord sy:
“Ek het gedink hoe groot pa by die huis lyk,
en hoe klein pa in hierdie gebou lyk.”
Die man het later vertel dat dit dadelik vir hom ‘n les was in hoogmoed,
ten opsgte van sy werk as parlementslid wat voorgelê het.
Dat hy nederig moet bly!

Hoogmoed kan ongemerk in ons lewens insluip.
Ons is dikwels nie eers bewus daarvan nie.
Dikwels het dit selfs te doen met hoe ons oor ander Christene
en hul aanbiddingstyle dink!
Of hoe ons moontlik neerkyk op ongelowiges!
Daarom begin Paulus sy oproep met die woorde:
“Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek…”
Hy lê eers klem op die feit dat elkeen van ons is,
wie ons nou in die Here is,
op grond van die genade van die Here!
En dan gaan Paulus voort:
“Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.”

Ons word maklik groot visse in klein dammetjies!
En dan beland ons in die oseaan van die lewe….
Daarom dat Jakobus ook in 4:6 geskryf:
“God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”

Wanneer ons die Heilige Gees toelaat om ons te lei in die waarheid,
bly ons nederig voor die Here.
Nederigheid is deel van die vrug van die Gees! – Gal. 5:22-23.
Wees wakker dat hoogmoed nie in jou lewe insluip nie!

Ernest