“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.”
Spreuke 16:18 deel hierdie wysheid uit die Woord van God.
Theodore Roosevelt wat president van die VSA was
aan die begin van die twintigste eeu,
het ‘n mentor gehad met wie gereeld gesels het,
juis om perspektief te behou, en wysheid te kry oor groot besluite.
Leslie B. Flynn skryf hieroor:
“Na ‘n aand van diep gesprek, het hulle gewoonlik na buite gegaan,
en sou hulle die hemelruim deursoek,
totdat een van hulle die fyn mistigheid op ‘n sekere plek
in die hemelruim gevind het.
Dan sou die mentor vir die president sê:
“Dit is die Spiral melkweg in Andromeda.
Daardie kolletjie is so groot soos ons hele melkweg.
En dit is maar een van ‘n honderd miljoen sterrestelsels.
Dit bestaan uit ‘n honderd biljoen sonne.
Elkeen groter as ons son……
Noudat ons perspektief het, kom ons laat dit daar.”
So het die mentor die president gehelp,
om perspektief te behou oor “hoe groot” Amerika is,
en “hoe groot” hy as president van Amerika is.
Baie Amerikaners sukkel blykbaar vandag steeds hiermee…
Grootheidswaan, hoogmoed, en selfverheffing,
is van die grootste vyande van die gelowige.
Diep uit ons binneste kom die gedagtes van “hoe belangrik ons is”,
en “hoeveel beter as ander” ons is.
Ons moet op ons hoede wees hiervoor!
Ons moet met “’n hemelse” perspektief ontdek hoe gering ons eintlik is.
Paulus, wat seker baie redes kon hê om hoogmoedig te wees,
het gesê ons moenie meer van onsself dink as wat ons behoort te dink nie.
Romeine 12:3.
Ernest