Tel jou woorde

Ons moet mooi dink wat ons sê, en wat ons regtig daarmee bedoel.
Spreuke 10 :19 help ons met hierdie waarheid:
“Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.”

Die koepelvormige St. Paul’s Katedraal in London,
het ‘n interessante argitektoniese verskynsel.
Dit word die “whispering gallery” genoem.
Op een webwerf word dit so beskryf:
“Die naam is gegee as gevolg van die feit dat
as jy aan die een kant van die muur fluister,
kan dit duidelik aan die ander kant,
by die ander muur, gehoor word.
Die klank word perfek om die kurwe van die koepel gedra.”
Die argitek, Christopher Wren, het dit reggekry dat mense
in die katedraal kan sit en fluister, en nogtans mekaar duidelik kan hoor!

Hierdie verskynsel laat mens dink aan hoe selfs ons
fluistergesprekke in die lewe “hoorbaar” raak.
Wat ons “in die geheim oor ander fluister”,
versprei so maklik soos die fluistering in die katedraal.
Ons fluisterwoorde word wyd versprei, en maak seer, en rig skade aan.

Die Bybel waarsku op baie plekke dat ons ons woorde moet tel.
Ons moet mooi dink wat ons sê, en wat ons daarmee bedoel.
Ons moet selfs nie onnodig baie praat nie…sê Spreuke 10:19,
want met baie praat bly die sonde nie uit nie.
Ons moet dink voor ons praat.
Wie sy woorde tel is verstandig.

Ernest