Geestelike groei is afhanklik van die soliede kos van God se Woord.
Op die Discovery kanaal is gewys hoe honger visarend kleintjies aan takkies by die nes kou.
Reg agter hulle lê egter ‘n vis wat deur die volwasse visarend in die nes geplaas is.
Hulle het egter nog nie geleer om hulleself te voed nie.
Hulle was afhanklik van die volwasse arend om die vis vir hulle op te breek in klein stukkies,
en hulle dan stukkie vir stukkie te voed.
Binne ‘n paar weke sou die volwasse visarend hulle selfs leer om self vis te vang en dit te eet.
So kon hulle dan groei tot volwassenheid, en oorlewing.
Die skrywer van die boek Hebreërs vertel dat ons ‘n soortgelyke probleem in ons geestelike lewe het.
Sekere persone in die gemeente het nie geestelik gegroei nie.
Hulle het daarom ook ‘n gebrek aan onderskeidingsvermoë, sê Hebreërs 5:14.
Vers 12 sê:
“Julle behoort teen hierdie tyd reeds self onderrig…te gee.”
Ons is dikwels nog soos die klein visarend wat nie tussen tak en vis kan onderskei nie.
Ons verdiep ons nie in die Woord van God nie, en eet nie geestelik nie, of “eet verkeerd”.
Ons bly afhanklik van iemand wat ons deurgaans moet voed.
Intussen wil die Heilige Gees ons daagliks versadig uit die Woord van God.
Ons moet al in staat wees om onsself te versorg, en selfs na ander om te sien, vers 12.
Maar ons bly ons bekkies oop hou, soos die kleintjies in die nes, wat net gevoed wil word.
Dit is goed om deur geestelike leiers gevoed te word.
Maar geestelike groei is afhanklik daarvan dat ons leer om onsself te voed.
Geestelike groei is afhanklik van die soliede kos van God se Woord.
Verdiep jou daagliks daarin!...sodat die Heilige Gees jou versadig!
Ernest