Ffyona Campbell het beroemd geword as die eerste vrou
wat om die wêreld gestap het.
Haar vreugde hieroor was egter van korte duur.
Sy het baie eer ontvang, maar haar gewete het haar baie gepla.
Sy het al hoe meer skuldgevoelens begin beleef, en teneergedruk geraak.
Sy het op die punt van ‘n ineenstorting gaan draai.
Wat het haar so gepla?
Sy het dit uiteindelik bely:
“Ek behoort nie die erkenning te ontvang nie, want ek was oneerlik.”
Sy het die riglyne van die Guinness Book of World Records oortree.
Sy het op ‘n stadium ‘n groot afstand op ‘n vragmotor afgelê.
Om haar gewete te stil, het sy haar borg geskakel en dit erken.
Sy het haar oneerlikheid bely om haar gewete skoon te kry.
Die vraag is nie of sy ooit uitgevang sou word nie.
Haar prestasie lê daarin dat sy na haar gewete geluister het,
en die regte ding gedoen het.

Die Here het aan ons ‘n gewete gegee om ons aan te kla as ons verkeerd doen.
Dit gaan nie hier oor die bose wat ons deurgaans wil aankla,
om ons van God te vervreem nie.
Die Heilige Gees werk hier deur ons gewete!... en praat met ons oor God se wil.
Paulus sê in Romeine 2:15 ons gewetes getuig daarvan,
wanneer ons deur ons gedagtes aangekla word.
Vir kinders van die Here is ons gewetes baie belangrik.
Alhoewel ons vrygespreek is, en in verhouding met die Here lewe,
doen ons dinge wat nie God se wil is nie.
Ons lewenswyse moet die van 1 Joh. 1:9 wees.
Om doelbewus die sonde te vermy, en wanneer ons dit wél doen, dit te bely.

Paulus doen moeite om sy gewete skoon te hou.
Hy sê in Handelinge 24:16:
“Daarom doen ek ook my uiterste bes,
om altyd ‘n skoon gewete voor God en die mense te hê.”
Deur belydenis bly ons naby die Here.

Ernest