“Ek het net iemand nodig wat my onvoorwaardelik liefhet,
iemand wat verbasend is, en eg.”
Dit is die woorde van iemand wat op ‘n webwerf skryf.
Is dit nie wat elke mens na smag nie?
Dat iemand vir ons omgee en ons regtig onvoorwaardelik liefhet.
Sonder pretensie, deursigtig, eg, en in waarheid.
Iemand wat verbasend besonders is!
Iemand wat regtig volkome aan hierdie beskrywing voldoen, is die Here Jesus!
Nét Hy voldoen inderdaad volkome hieraan.
Meer nog, Hy is en doen baie meer, as wat ons kan dink, bid, of begeer!
In ‘n daad van liefde tot die uiterste, Joh. 13:1, het Hy na die wêreld gekom.
Hy kom leef die volmaakte sondelose lewe.
En tog moet Hy sy lewe as offer aan die kruis gee,
ter wille van ons wat in sonde geleef het!
Hy neem plaasvervangend ons plek in, om ons te red van die dood.
Treffend sê Rom. 5:8:
“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin,
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
En dan hierdie opsomming daarvan, as’t ware, in 1 Joh. 3:1:
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:
Hy noem ons kinders van God.”
Ons leef nou al hoe nader en nader aan paastyd, Goeie Vrydag en Paasfees.
In hierdie tyd gaan ons doelbewus die heilswerk van God oordink, en vier!
Verlang jy na iemand wat jou so onvoorwaardelik liefhet?
God het! In Christus, deur die Gees.
Hy is Iemand so besonders, bo denke en verstand!
Hy is gans anders!
Hy is Vader God, en jy…..sy kind!
Ernest