“Jesus het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad,
Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.”

Jesus se liefde is so groot dat Hy deur die uiterste pyn en lyding gaan vir ons.
Pyn en lyding bo ons begrip.
Hy dra die volle toorn van God oor alle sonde van die wêreld!

Reeds in sy aardse lewe dra Hy al die pyne en lyding van die lewe.
Sy eie familie en dorpsmense verstaan Hom nie en verwerp Hom.
In sy grootste tye van nood en krisis is hy stoksielalleen.
Sy dissipels, hulle wat die naaste aan Hom is, raak in die tuin aan die slaap,
as hulle moet waak en bid saam met Hom.
Judas, een van die twaalf, het Hom verraai.
Wanneer hy gevange geneem word, hardloop sy dissipels weg.
Petrus, een van Jesus se heel beste vriende,
gee voor dat Hy Jesus glad nie ken nie!
Jesus maak die verskriklikste lyfstraf deur,
en hang uiteindelik ses uur lank aan die kruis voor Hy sterf.

Jesus verstaan daarom al die pyn en lyding van jou lewe.
Sy liefde en omgee vir jou is met meer begrip
en groter as enige iets anders in die skepping.

Daarom help dit nog meer om iets daarvan vir ons te verstaan,
as ons Jesus se laaste woorde aan die kruis beter verstaan.
Ons gaan in die tyd voor en tydens Paastyd hieroor nadink.
Dit laat ons met hoop die ware lewe lééf, ten spyte van…..wat ookal.
In elke kruiswoord lê vir ons oorwinnings verklarings!

“People die in the way they have lived.
Death becomes the expression of everything you are,
and you can bring to it only what you have brought to your life.”
Dit is die treffende woorde in die dokumentêre fliek “Dying”,
wat Michael Roemer gemaak het.
Jesus bevestig die waarheid daarvan met sy kruiswoorde.
Sy dood gee vir ons oorwinning!
Kom ons oordink die oorwinning in sy kruiswoorde!

Ernest