Vader, vergeef ons….
Jesus se eerste kruiswoord in Lukas 23:34 gaan oor vergifnis!
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Dit is treffend dat dit kom te midde van sy onbeskryflike pyn na liggaam en gees.
En juis ten opsigte van ons, as mense, wat dit alles veroorsaak het!
Almal van ons het ‘n behoefte aan vergifnis.
Naas ons behoefte aan liefde,
is dit waarskynlik ons grootste behoefte.
Hieroor sê Heinrich Heine:
“God will pardon me, that’s His line of work.”
Die Vader wil en Hy sal!
Ons verlang na ‘n pa wat,
ten spyte daarvan dat ons sonde doen en foute maak,
ons nog steeds sal liefhê en ons sal vergewe.
God is daardie enigste lewende Vader God!
Vergifnis is God wat ons nie wil en sal los nie!
Selfs na alles wat ons gedoen het,
kan ons na Hom toe gaan,
met ware berou, en belydenis, en opregte geloof,
dat Hy ons verseker sal vergewe.
Hy maak ons in Christus vry!
Wat ‘n voorreg om aan die Vader te behoort,
wat aan ons ‘n nuwe begin kom gee in Christus,
wat ons kom heel maak deur die Gees!
Ernest