Die vergifnis, waarvoor Jesus namens ons aan die kruis die Vader vra,
is soos ‘n aflosstokkie wat aangegee moet word, sê Helmut Thielicke.
En wanneer ‘n aflosstokkie nie aangegee word nie, word jy gediskwalifiseer.
Kolossense 3:13 sê:
“Vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.
Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”
Hoe doen ‘n mens dit? Veral teenoor iemand wat jou baie pyn veroorsaak het?
Makliker gesê as gedoen. Veral uit eie krag of eie pogings.
Maar God help ons deur die Heilige Gees hiermee!
Walter Wangerin deel vergifnis in ‘n paar stappe op.
Die eerste is: Wees realisties.
Vra die vraag: Wie en wat moet ek vergewe?
Wat was die gebeurtenis, en wie het jou seergemaak?
Vergifnis het altyd ‘n gesig. Gee daarom uiting aan jou gevoelens.
Jy mag maar kwaad wees. Maar praat ook met God daaroor.
Dit help jou om nie sonde te doen in jou kwaadwees nie.
“As julle kwaad word, moenie sondig nie…” Ef. 4:26.
Die tweede is: Wees bewus van jou eie vergifnis wat jy ontvang het.
Eers as ons van ons eie vergifnis bewus is, kan ons iemand anders vergewe.
Baie belangrik: ons vermoë om te vergewe is net moontlik
omdat ons reeds deur Jesus vergifnis ontvang het.
Jy ontdek dat die persoon wat jy moet vergewe iemand met foute is,
net soos jy! Dit is as’t ware ‘n gelykmaker.
Die derde stap is die moeilikste: Gee jou wrok waarmee jy worstel aan die Here.
Jy beweeg weg van die “ek gaan jou terugkry” gevoel of oortuiging.
Wraak, of selfs net wraakgedagtes, kweek bitterheid.
Vergifnis hou, soos liefde, nie boek van die kwaad nie.
Die vierde stap: vergewe nou doelbewus die persoon wat jou seergemaak het.
Indien jy dit nie doen nie, bly jy ‘n slaaf van daardie persoon!
Jy is dan die een wat nie vry is nie!
Wanneer die verhouding dit toelaat,
kan jy dit met die persoon gaan bespreek,
en sê dat jy hom/haar volkome vergewe hét, reeds vergewe hét!
Die verhouding laat dit nie altyd toe nie.
Kry in elk geval volkome vrymoedigheid en oortuiging
oor jou vergifnis van die person by die Here.
Die vyfde stap: Volg jou woorde doelbewus met dade op.
Bedoel jou vergifnis deur dit uit te leef. Dit versterk ook jou vergifnis en geloof.
Dit is presies wat Kol. 3:13 sê. Hieroor sê Wangerin:
“Identifying a wrong, and voicing forgiveness for it,
is worth nothing if your behaviour continues to punish the offender.”
Ghandi het gesê: “One can never forgive too much.
The weak can never forgive. Forgiveness is the attribute of the strong.”
Net voor haar dood het Marghanita Laski in 1988 op TV gesê:
“What I envy most about Christians is their forgiveness.
I have nobody to forgive me..”
Vader, vergeef, soos ek ook vergewe…
Ernest