Hierdie tweede kruiswoord van Jesus is eintlik ‘n antwoord op ‘n versoek.
Die misdadiger aan die kruis vra vir Jesus:
“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
Soos ‘n bedelaar wat by die deur kom klop en ‘n stukkie brood vra,
in totale afhanklikheid.
Hy vra net dat die Here aan hom sal dínk, niks meer as dit nie…
In die proses kry hy baie meer as wat hy ooit sou kon droom.
Jesus antwoord hom in Lukas 23:43 met die tweede kruiswoord:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Let op die dubbelpunt. “Ek verseker jou: …” - dubbelpunt vir beklemtoning.
Dit is verseker só. Die misdadiger kan dit verseker wéét. Dáárdie dag nog!

Ons kan ook met soveel sekerheid aan hierdie belofte vashou.
Die Here dínk nie net aan ons nie…, soos die misdadiger vra nie…
Die Here ís by ons! Hy Self sê só!
In die donkerste dieptes van die lewe.
Aan die kruis van die lewe.
Selfs as ons die dood in die gesig staar.
Altyd. Oral.

Paradys is sinoniem vir die hemel.
Om volkome in heerlikheid by God te wees.
Intussen is Jesus nie dáár en ons híér nie.
Hy is by ons, in ons.
Deur die Heilige Gees woon Hy in ons!

Ernest