Die derde kruiswoord van Jesus beklemtoon hoe nodig ons mekaar het.
In Johannes 19:26-27 sê Jesus vir sy moeder:
“Daar is u seun.”
En vir die dissipel vir wie Hy baie lief was, Johannes, sê Jesus:
“Daar is jou moeder.”
Die Boodakap vertaal dit:
“Ma, laat hy van nou af jou seun wees. Vriend, laat sy van nou af jou ma wees.”
Die Here gee ons as familie vir mekaar.
Jou aardse, én jou geestelike familie.
Jesus lig die belangrikheid uit van familie wees vir mekaar.
Ons aardse familie is belangrik.
Maar ons geestelike familie is ook baie belangrik.
Dit is die geloofsgemeenskap waaraan ons behoort.
Ons broers en susters in die Here!
Almal het ‘n behoefte daaraan om te behoort.
Jesus weet hoe belangrik dit is,
en gee sy ma en Johannes aan mekaar in hierdie geloofsgemeenskap.
Familie, en die familie van die geloofsgemeenskap,
is waar ons liefde, sorg en ondersteuning ontvang en aan mekaar gee.
Dit is die eerste sirkel van omgee vir mekaar.
Daar het ons mekaar onvoorwaardelik lief met die Here se liefde.
Vandaar reik ons ook uit na die wêreld,
om die liefde van die Here daar te gaan uitleef.
Deur die kruis kom wys die Here aan ons dat daar altyd liefde vir mekaar moet wees.
Jesus dra sy ma en sy dissipel vriend se belange op die hart.
Ons kan net dink hoé intens Jesus dit bedoel terwyl Hy aan die kruis hang…
Ook in ons intense pyne van die lewe moet ons steeds aan die belange van ander dink.
Ons geloof in die Here Jesus verbind ons aan ander gelowiges,
en dit verbind ons ook aan ander mense wat nie soos ons glo nie.
Ons moet juis ook dáár die liefde van die Here gaan uitleef.
In die familie word ons toegerus,
om ook buite die familie die Here te verteenwoordig.
Ernest