Die vierde kruiswoord van die Here reik na die diepste diepte van sy lyding.
Hoe sal ons enige iets daarvan kan begryp, wat dit ooit sou kon beteken,
om totaal van God verlate te wees….?
In jou pyn kan jy voel jy slaan in die duisternis teen die deur van die hemel,
en daar is eenvoudig geen reaksie nie.
In jou pyn kom jy soms by die punt waar jy voel
God is besig om jou in die steek te laat.
Soos Dawid vra jy in Psalm 13:2:
“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?”
Ons kan hierdie vierde kruiswoord van die Here Jesus in sulke tye onthou.
Want in sy diepste pyn en lyding en smart,
is Jesus se uitroep van Godverlatenheid steeds ‘n belydenis!
“My God….my God…!”
Ook ons pynkreet kan steeds ‘n uitroep van geloofsbelydenis wees!
Ons is immers nooit van God verlate nie, nooit nie.
Dan sou ons nie eers kon asem haal nie….
Oor die diepste pyn tye leer Jesaja 59:1 ons
dat God se arm nooit te kort is om te help nie,
en sy oor is nooit te doof om nie te hoor nie!
Hierdie kruiswoord bevestig aan ons die uiters belangrike waarheid;
dat Jesus in ons plek van God verlate was,
sodat ons nooit ooit van God verlate sal wees nie.
Die rolprent “Mercy Mission” gaan oor die ware verhaal van die vlieënier
wat met ‘n ou Cesna vliegtuig van die VSA na Nieu-Seeland vlieg.
Op die laaste dag kom hy agter sy kompas werk nie meer nie!
Rondom hom is slegs die see, en hy is totaal verlore.
‘n 747-vlieënier tel toe die SOS sein op, sukkel lank om kontak te maak,
en spoor die Cesna uiteindelik op.
Hy praat die Cesna-vlieënier voortdurend moed in,
en die 747 word die baken wat deur die Cesna gevolg word,
tot in die veiligheid van Auckland!
Soos die naam van die fliek sê, inderdaad ‘n “Mercy Mission”.
Dit is die waarheid van die vierde kruiswoord.
Die Here Jesus gaan háál ons….,
deur sy Godverlatenheid, uit ons totale verlorenheid.
God se “mercy mission” vir elkeen van ons!
Ernest