Jesus se vyfde kruiswoord in Johannes 19:28, “Ek is dors”,
beklemtoon dat Hy ook mens was.
Ons vergeet dit maklik.
Die Here verstaan alles van ons menswees.
Hy dra nou nog die spykermerke ter wille van ons pyn en lyding.
Maar hierdie kruiswoord herinner ons ook aan ons geestelike dors.
Wanneer Jesus op aarde is nooi Hy uit:
“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink.”
By die kruis word ons ewige dors geles.
Die kruiswoord leer ook dat ons met enige behoefte na die Vader kan gaan.
Selfs die mees basiese behoefte om net as mens te kan oorlewe. Dors.
Maar, dat ons ook na mense moet gaan.
Jesus sê dit ook vir hulle wat om die kruis staan.
God werk ook deur die mense rondom ons om ons te help!
Ons moet die Godgegewe moontlikhede daarvan raaksien,
en weet dat ook dit van God af kom.
Die seuntjie het in die veld vir sy pa gevra:
“Dink pa ek sal hierdie klip kan optel?”
Die pa antwoord:
“Ja, seun, as jy ál jou krag gebruik.”
Die seuntjie het alles probeer en toe moedeloos vir sy pa gesê:
“Pa was verkeerd, ek kan dit nie doen nie.”
Die pa het sy hand op die seun se skouer gesit en gesê:
“Nee seun, jy het nog nie al jou krag gebruik nie.
Jy het nog nie vir my gevra nie. Ek is deel van jou krag.”
Vra vir die Here.
Vra ook vir mense.
Hulle is deel van die Here se krag vir jou.
Ernest