Paulus sê dit in 1 Korintiërs 8:1.
“Kennis maak verwaand, maar liefde bou op.”
Wat bedoel hy daarmee?

Die Boodskap vertaal 1 Korintiërs 8:1-3 so:
“Julle het mos ook in julle brief gevra
of ‘n mens kos mag eet wat aan afgode geoffer is.
Dit is waar wat julle sê:
“Julle weet wat die kerk alles leer.”
Maar as ‘n mens dink jy weet so baie,
kan dit jou te veel van jouself laat dink.
Onthou egter, liefde blaas jou nie so op nie,
maar bou liewer ander mense op.
Boonop, iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af,
weet baiekeer nie dit wat eintlik belangrik is nie.
Maar as iemand God liefhet, is hy gedurig in God se gedagtes.”

Paulus vra eintlik hier of jy met jou kop dink, of met jou hart.
Kennis blaas jou op, en liefde bou jou op.

‘n Indiaanse hoofman het vir Carl Jung, die sielkundige, gesê:
“Ons dink die bleekgesigte is mal, want hulle sê hulle dink met hulle koppe.”
“Maar natuurlik”, het Jung gesê. “Nou waarmee dink julle dan?”
“Ons dink hiér”, het die Indiaan gesê en na sy hart gewys.

Kennis plaas jou maklik op ‘n troon. Jy weet die beste!
Liefde plaas jou in ‘n kring. Almal is gelyk.
Ons word dikwels intellektuele reuse, maar in terme van liefde is ons dwergies.
Kennis kan jou verwaand maak.
Dan neem jy nie meer mense in ag wat minder as jy weet nie,
en jy behandel hulle liefdeloos, en sonder begrip vir hulle oortuigings.
Al het jy duidelik meer kennis, of iets gedoen mag word of nie,
soos ten opsigte van die offervleis, neem steeds ander met ander oortuigings in ag.
Lei hulle met liefde en begrip.
“Iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af,
weet baiekeer nie dit wat eintlik belangrik is nie.” (vers 2)

Ernest