Paasfees beklemtoon die boodskap:
Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.
Laat jou gedagtes teruggaan….
na daardie Sondag môre direk na Jesus se dood.
Die dag toe Jesus uit die dood opgestaan het!
Dink net wéér:
Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik!

Lees nou in die lig hiervan 2 Kor. 4:14:
“Ons weet immers dat God ,
wat die Here Jesus uit die dood opgewek het,
ons ook saam met Jesus sal opwek,
en ons saam met julle voor sy troon sal stel.”
Ons….word saam met Jesus uit die dood opgewek!

Lees nou in die lig hiervan 1 Kor.15:57:
“Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee,
deur ons Here Jesus Christus.”
Oordink dit nou met die oog op jou toekoms!
Jou hoop. Jou geloof. Jou lewe!
Hoe Paasfees dit verander!
Die opstanding laat jou heeltemal anders na die lewe kyk.
En laat jou ook anders na die dood kyk…wat nou kragteloos is!

Jy kyk heeltemal anders na die lewe, en lééf dit nou ook anders!
Kyk net:
In die bus het ‘n ou man met ‘n bos blomme gesit.
Oorkant die ou man het ‘n meisie gesit.
Sy kon haar oë nie van die pragtige bos blomme afhou nie.
Toe die tyd aanbreek dat die ou man moes afklim van die bus,
het hy die bos blomme op die meisie se skoot neergesit en gesê:
“Ek sien jy is dol oor hierdie pragtige blomme.
Ek dink my vrou sal daarvan hou as jy die blomme vir jou neem.”
Die meisie het die blomme met groot vreugde aanvaar.
Sy het gekyk hoe die ou man van die bus afklim,
en deur die ingang van ‘n begraafplaas loop……
na sy vrou se graf toe.

Jou opstanding en nuwe lewe in Christus,
raak nou ander mense aan!
Jy lééf!
Nuut!

Ernest