Lukas 24:34:
“Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
Hierdie Simon is natuurlik Simon Petrus.
Ons onthou drie dinge met hierdie verskyning aan Petrus,
wat ook vir ons baie betekenisvol is.
Dit is: die opgestane Christus, die gebroke Petrus, en die verrassende ontmoeting.
Eerstens: Jesus het verseker opgestaan!
En sy opstanding bring nie afstand tussen Hom en sy volgelinge nie.
Die hoogtepunt van sy opstanding, beklemtoon ook die laagtepunt van ons val.
Maar Jesus kom terug na Petrus toe! Hy draai nie sy rug op Hom nie.
Die woorde “Hy het aan Simon verskyn” beklemtoon dit.
Die opgestane Jesus is steeds die Here wat stukkende mense heel maak!
Met die belydenis dat die Here “op die derde dag weer opgestaan het uit die dood”,
bely ons dat enige iets kan verander. Niks is vir God onmoontlik nie!
Tweedens: Die gebroke Petrus.
Hy het hom in die Here Jesus vasgeloop.
Maar wanneer jy jou in die Here vasloop, is daar altyd hoop op herstel!
Niks kan ons skei van die liefde van God in Christus nie!
Al het ons hoe hard en ver geval, God buk af na ons toe.
Ons kan nie verder val, as wat God kan buk,
om ons in Christus deur die Gees op te tel nie!
“Hy het aan Simon verskyn….”
Na alles wat tussen Hom en Simon gebeur het!
Derdens: Die verrassende ontmoeting.
Om jou in Jesus vas te loop is lewensveranderend.
Jy kan Jesus op enige tyd van enige dag verwag…
Jy kan Jesus op die slegste van die slegte dae verwag!
Hy is nie net ‘n mooiweers Here nie.
Hy ontmoet ons nie net op groen weivelde nie,
maar ook in donker dieptes.
Daar waar Petrus was toe Hy na hom toe gekom het.
Ons leef in ‘n Jesus-gevulde wêreld.
Daar is ‘n Franse spreekwoord wat sê:
“God besoek ons dikwels, maar ons is selde tuis.”
Ons sou ook kon sê dat God ons dikwels besoek,
maar ons is selde gereed.
Jesus het opgestaan en leef.
Hy vul elke dag met sy Goddelike heerlikheid!
Leef dit raak!
Ernest