Ons is opstandingsmense wat in ‘n Goeie Vrydag- en Paasfees-wêreld lewe.
Ons vertel vir ander mense daar is hoop, betekenis, en sin in die lewe.
Ons vertel vir mense dat dit alles saamgevat word in een woord: Jesus!
Hy verander ons, en ons wýs vir mense hoe Hy ons verander het.
“Julle gees en gedagtes moet nuut word;
lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is.” Ef. 4:23-24.
Jesus word jou besluitneming. God se wil word jou besluitneming.
Jesus is radikaal anders en het opgestaan.
Sonder die opstanding is ons niks. Dit is die Paasboodskap.
Die samelewing maak met Jesus, soos Dorothy Sayers in sterk taal gesê het:
“Ons het op ‘n doelmatige wyse die naels van die Leeu van Juda kortgeknip,
en Hom as ‘n troeteldier aanbeveel vir bleek predikante en vrome ou dames.”
Sterk taal. Maar dit laat jou dink. Wat maak jy met die boodskap van die opstanding?
Die Here soek mense wat radikaal die nuwe lewe in Jesus Christus uitleef.
Nie pessimiste nie, of gewone optimiste nie, maar hooptimiste!
Mense wat voluit die gevolge van die opstanding van Jesus,
en ons opstanding sáám met Hom, uitleef!
Hoe lyk die lewe?
Jesus is eerlikheid, en Hy is omgee vir ander. Hy is waarheid.
In ‘n wêreld waar verhoudings sukkel om te werk,
is Hy verhoudings wat werk.
Hy is vergifnis. Hy is ware blydskap. Hy is Hoop.
Hy is oorvloedige lewe.
‘n Mens getuig die heel beste van die opstanding as jy die opstandingslewe leef!
Hierdie waarheid sien ons duidelik in die Woord:
Petrus verander van ‘n lafaard wat Jesus drie keer verloën, na ‘n man van rots,
wat vir niks en niemand terugstaan in sy getuienis en lewe nie.
Die twaalf dissipels verander heeltemal. Van verskrik, na radikaal vir die Here.
Jakobus, Jesus se skeptiese broer, word die leier van die kerk in Jerusalem.
Paulus, eers die vervolger van Christene,
word die skrywer van die meeste briewe aan gemeentes in die Bybel.
En hy sit in die tronk en wag vir die doodstraf, ter wille van die opstandingslewe!
Opstandingsmense!
Jy is ook een!
Ernest