Nuwe mense in Christus is nie gierig nie.
Paulus gaan voort met sy praktiese riglyne vir die nuwe lewe,
en skryf oor gierigheid in Ef. 4:28:
“As iemand ‘n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat,
moet hy dadelik daarmee ophou.
Hy moet vir hom ‘n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien.
Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê
om vir mense wat niks het nie, iets te gee.”
Die samelewing laat ons elke dag glo “meer” is “beter”.
Dit laat jou dink aan die verkoopsman wat net sê:
“Laat ek jou iets wys wat baie van jou bure sê jy nie sal kan bekostig nie.”
Die bemarkingswêreld maak dat ons al hoe meer oorgee aan gierigheid,
om net meer en meer te hê.
Ons het die onvermoeë om te onderskei tussen die kwaliteit van lewe,
en die kwantiteit van dinge waarmee ons ons lewens vul.
Wanneer is genoeg nou genoeg?
Vir gierigheid is dit nie ‘n vraag ter sprake nie.
Vir gierigheid sal genoeg nooit genoeg wees nie.
Gierigheid raak soos steel….
Daarom praat die teks van “ander mense se goed vat”.
Dit is soos korrupsie, omkoop, woekerwins….
Daarom praat die teks ook van “eerlik verdien”.
Paulus gee ‘n lewensbeginsel.
Werk eerlik sodat jy ook eerlik kan weggee.
Waarom is gierigheid so dodelik?
Omdat dit jou aandag aftrek van dit wat regtig belangrik is.
Hoe afhanklik jy regtig van God is!
En dit laat jou jou fokus verloor op dit wat regtig vir jou kosbaar is.
Ons moet die Here vra om ons die onderskeidingsvermoeë te gee,
oor wat genoeg is, en om dit wat te veel is weg te gee.
Ons moet sê en leef:
Wat ek te veel het, gee ek weg.
Wat ek wegegee het,
is juis wat ek uiteindelik hét!
Ernest