Paulus gee in Ef. 4:29 en 31 nog praktiese riglyne,
vir die nuwe mens met die nuwe lewe in die Here:
“Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie.
As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê,
en vir ander iets beteken.
Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê, en sê dit dan.”
Vers 31: “Moenie toelaat dat julle bitter word nie.
Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor,
moet jy nie kwaad bly nie.
Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie.
Moet ook nie iets doen wat vir ‘n ander een sleg is nie.”
Dit is só prakties. Die woorde spreek vir hulself!
As woorde en dade nie seergemaak het nie,
sou daar nie soveel stukkende mense gewees het nie.
‘n Los mond is een van die duiwel se gunstelinge.
Onthou die 4/1 beginsel: sê eers vier goeie dinge oor iemand,
voor jy een woord van kritiek sê. Dit sal ons laat dink, voor ons praat.

Paulus sê verder in vers 32:
“Behandel mekaar mooi en goed.
Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees.
Sien mekaar se foute oor, net soos God julle foute oorgesien het,
omdat julle Jesus s’n is.”
The Message: “Be gentle with one another, sensitive.
Forgive one another as quickly and thoroughly as God in Christ forgave you.”
Iemand noem die slegte behandeling van mense die “skaarste van die siel”,
of die “suinigheid van die siel.”
Dit kan nie ander mense en hul vreugde vier nie.
Dit is selfgerig, soos die persoon wat gesê het:
“Lank gelede het ek besluit dat my lewe ‘n sukses sal wees,
as ek een persoon sal kies om gelukkig te maak. Ek het myself gekies.”
Suinigheid van die siel gee nie graag aan ander genade, deernis en vergifnis nie,
al is dit vir almal vryelik en in oorvloed beskikbaar by God.

Die nuwe mens het ‘n oorvloedsmentaliteit.
Leef die léwe, en dít in oorvloed!
Jy soek die goeie in ander, sien dit, en vier dit.
Want jy sien die werk van die Heilige Gees in hulle.

Ernest