Na Paulus se hoop-wens vir gelowiges se nuwe lewe in die Here,
sluit hy sy tweede brief aan die Korintiërs af met hierdie woorde in 2 Kor. 13:12-13:
“Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas.
Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete.”
Vers 13: “Die goedheid van die Here Jesus Christus,
die oorvloedige liefde van God,
en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees,
is by julle almal. Amen.”
Hiermee, met hierdie seën van die Here,
rus die Here ons toe om as opstandingsmense, nuwe mense,
Hóm in hierdie wêreld te gaan verteenwoordig.
Ons moet dit eenvoudig gaan lééf,
tot geloof vir elkeen wat dit by ons ervaar en sien!
Deur ons lewe in die Here, oortuig die Gees mense van God se liefde!
“Contact” vertel van Eleanor Arroway, ‘n wetenskaplike,
wat haar geloof in God verloor het. Palmer Joss, ‘n goeie vriend,
verduidelik toe sý geloof só aan haar:
Toe hy ‘n seun was het hy een aand na die sterre gekyk,
en ‘n teenwoordigheid ervaar wat groter as enige iets was….God!
Dit kan nie met bewyse verklaar word nie.
Maar Eleanor was nie tevrede nie en vra:
“Is daar ‘n almagtige, misterieuse God wat die heelal geskep het,
maar vir ons geen bewyse van sy bestaan agtergelaat het nie?
Of is daar eenvoudig geen God nie, dat ons Hom geskep het,
sodat ons nie so alleen sal voel nie?”
Sy het gesê sý glo in laasgenoemde.
Palmer het hierop gereageer:
“Het jy jou pa liefgehad?”,waarop Eleanor antwoord: “Ja, baie!”
“Bewys dit dan!”, sê Palmer.
Ons kan nie God bewys nie! Dan sou Hy ondergeskik aan ons wees!
Ons kan net vir die wêreld wys hoé lief God vir elke mens is,
deur God se liefde teenoor Hom en ons medemens uit te leef!
Lééf dit!
Jy is deur die seën van God toegerus daarvoor!
Die opstandingslewe!
Die nuwe lewe in die Here!
Ernest