Ons leef in die harde wêreld van die sterkstes wen.
Of is dit nou die rykstes, slimstes, skelmstes, of gevaarlikstes?
Die wêreld van elkeen vir homself.
Om weg te gee, is nie vir die wêreld belangrik nie.
Wel om in te palm.

Hier is die geheim:
In die evangelie van Jesus Christus gaan dit om gee.
Alles wat in God se koninkryk belangrik is, hou direk verband met gee.
2 Korintiërs 8:9 sê dit so treffend:
“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was,
het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.”
Jesus se eie lewe is die onteenseglike bewys:
God is in die weggee bedryf!
Jesus, wat ryk was, het om ons ontwil arm geword.
Hy het Homself volledig weggegee vir ons.

As volgelinge van Jesus volg ons in sy voetspore.
Ons soek en doen sy wil.
Dit vra dat ons ook ruim harte sal hê, weggee harte.
Harte wat onsself heel eerste vir die Here en vir ander gee.
Prakties vra dit ons tyd, gedagtes, hande, voete, en ons beursies.
Lewens wat in offers verander het.

Vir die Here gaan dit nie oor hoeveel ons opgaar nie,
maar oor hoe ryk ons is in weggee.
Dit wat ons weggee, is dit wat ons ryk maak!

Ernest