Waagmoedige saaiers is die regte saaiers op God se saailande,
nie die spaarsamige saaiers nie.
In Matteus 25:14-30 lees ons van die verantwoordelike bestuurder,
in Jesus se gelykenis van die talente.
Sulke “veilige” roetes om “verantwoordelik” te wees in God se koninkryk,
is nie die regte roetes nie.
Daarom sê Jesus dan ook in vers 29:
“Aan elkeeen wat het,sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê;
maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”
Dit is hy wat besluit het om sy eienaar se geld in die grond te begrawe.
Dit gaan nie vir Jesus oor goeie spaarders in sy koninkryk nie.
Dit gaan vir Jesus oor waagmoedige saaiers in sy koninkryk!
Hoe meer van die koninkryk waagmoedig uitgestrooi word,
hoe groter oeste kan daar te wagte wees.
Die koninkryk van God is ‘n saailand, nie ‘n besigheid nie.
Die koninkryk groei.
Dit word nie deur “verantwoordelikes” in stand gehou nie.
Ons moet met alles tot ons beskikking ruim in God se saailande saai.
Dan sal meer en meer mense rondom ons kan leef uit wat God gee.
Ons kan nie in die koninkryk van God spaar vir die oudag nie!
Jesus se bekende woorde, dat dit beter is om te gee as om te ontvang,
moet deurgaans tot gevolg hê dat nog iemand kos het,
warm gaan slaap, en die evangelie in aksie sien en hoor.
Natuurlik moet ons met wysheid weggee, as waagmoedige saaiers.
Maar ons moet geestelike onderskeidingsvermoë hê,
eerder as “verantwoordelike bestuur”.
Vrygewige harte en oop hande.
Ons gawes moet offers wees, en nie iets wat ons afknyp nie.
Solank ons net uit ons oorvloed gee,
het ons nog nie verstaan wat dit is om regtig te gee nie!
Waagmoedige saaiers!
Nie spaarsamige instandhouers nie….
Ernest