Ons ken die uitdrukking….
Dat ons met die witbrood onder die arm kla….
Ons raak selfs omgekrap omdat God nie ons gebede verhoor nie.
Ons bid, met finansies wat in die rooi is, maar Hy help nie!
Ons het soveel skuld, maar Hy stuur nie genoeg uit die hemel nie.
Vraag is, het ons in die sonskyndae met soveel oorgawe weggegee,
as waarmee ons nou bid en hulp vra?
En sit ons nou skielik dakloos, sonder kos, en sonder klere?
Verseker nie! Met min van ons wat nou kla, is dit die geval.
God is steeds God.
Sy waarborg van ‘n daaglikse porsie brood geld steeds.
“Here, gee ons vandag ons daaglikse brood…”
Hy wat vir die mossies kos aandra, Matteus 6,
sorg steeds dat daar kos en klere in ons kaste is.
Of is ‘n brood nie ook kos nie?
Hoeveel ham, kaas en nagereg moet ons bysit voordat dit kos is?
“As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word,
so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie,
julle kleingelowiges?” Matteus 6:30.
Moet ons nie by Jakobus gaan leer nie?
Hy sê in Jakobus 1 dat die wat ryk is altyd voor God arm moet wees.
En die armes moet op hulle beurt ryk wees in die Here.
Vertrou die lewende God vir vandag se brood.
Ons omstandighede is nie die maatstaf om God se afstand van ons af, af te meet nie.
God is in ons, by ons, handelend en versorgend!
Daarom kan ons elke keer ‘n stukkie van ons brood weggee.
Elke keer! Elke dag!
Ernest