Leef in eenvoud sodat ander kan leef.
Leef eenvoudiger sodat ander mense rondom jou ook kan leef.
Leef eenvoudiger en meer vrygewig.
Paulus sê ‘n baie baie belangrike waarheid in Handelinge 20:35,
wat ons maklik miskyk:
“Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys
dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help.
Onthou die woorde van die Here Jesus.
Hy het self gesê: Om te gee,
maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang”
Paulus se woorde, dat hy hard werk sodat die armes ook kan eet,
laat jou twee keer dink oor wat jy met jou inkomste doen.
Ons werk vir kos op ons eie tafel, gerief in ons eie huise,
geld in ons eie rekening, en ons eie goeie pensioen.
Maar om hard te werk sodat armes kan eet…
Wie van ons dink daaraan en doen dit doelbewus?
En dit het nou niks te doen met belasting,
en dat die regering dan vir hulle moet sorg nie.
Hierdie woorde van Paulus word nie as ‘n mooi ideaal voorgehou nie.
Ons word deur die Here geroep om hulle wat minder as ons het te versorg.
Hy self wil dit deur ons doen, met dit wat Hy in genade en sorg vir ons gee!
Rentmeesterskap is om dit wat die Here vir jou gee met ander te gaan deel.
Dit is nie om krummels te gee wat van my tafel afgeval het nie….
En dit is vir ryk en arm bedoel. Almal moet deel wat God hulle gee om mee te deel!
Ons kwalifiseer nie eers vir hierdie waarheid as ons bo ‘n sekere inkomste is nie.
In Lukas 3 leer Johannes die Doper vir die armstes,
dat as hulle twee kledingstukke het,
hulle minstens een kan weggee!
Ons almal het om te gee.
Begin om jouself te gee.
Die res sal vanself kom onder leiding van die Gees.
Ernest