Ons praat dikwels van slapelose nagte.
Ander kere sê ons “ek het soos ‘n baba geslaap”.
Bekommernis laat ons dikwels wakker lê.
En dan dink ons in, ons bekommernis,
die Here het ook nog van ons vergeet!
Dit lees ons ook in Psalm 77:2-5:
“Ek roep na God om hulp, ek roep na God want Hy sal my hoor.
In my nood soek ek hulp by die Here;
ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek,
sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.
Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae.
U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos.”
Ons wil eitlik sê: “Dankie Here, vir die Psalms”.
Ons kan so daarmee identifiseer in ons eie lewe.
In voorspoed en teenspoed. In vreugde en hartseer.
In siekte en gesondheid. Krisis. Nood. In lewe en dood.
In alles wat deur die lewe na ons kant toe kom.
En dit kry ons ook in hierdie Psalm waar Asaf met die Here worstel.
Hy sê hy roep om hulp, want die Here sal hoor. Maar tog vind hy nie troos nie.
Hy dink aan God en sug en is verslae. Hoor die Here dan nie?
Dit laat hom wakker lê. En dan sê hy: “U laat my wakker lê”.
Begin hy nou twyfel of God hom hoor?Hy sê selfs in vers 11:
“My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie”.
Gaan Asaf by hierdie “mosie van wantroue” wat nou ontstaan, vassteek?
Nee. Hy begin terugdink aan al die groot dade van God in die verlede.
Een na die ander noem hy dit op. Hy oordink dit, en peins daaroor.
Hoe God deur krag red! Hoe God wonderdade doen!
Sal Hy dit nie weer en weer doen nie!?
Ook in jou lewe, kan jy terugdink aan God se wonderdade in jou lewe.
Wanneer jy wakker lê kan jy dit een na die ander oproep, en oordink.
En, soos Asaf, sal jy besef: “U het U volk soos ‘n kudde gelei…”
Die Here is ook jou Herder, en jy sal niks kortkom nie – Psalm 23.
Rus in die Here.
Ernest