Iemand het gesê die nasionale sport van Suid-Afrika is om te kla.
Dit is nogal opmerklik dat ons dikwels mekaar groet met “kan nie kla nie”.
So asof ons wil, maar ons het nie iets om oor te kla nie.
Ander groet met “mag nie kla nie”.
So asof hulle baie het om oor te kla, maar hulle “mag nie”.
Dit laat jou wonder of ons nie in elk geval hierdie woord “kla”,
heeltemal uit ons groet moet haal nie?
Dit kom egter van so lank terug, en sê seker so lekker onnadenkend…,
Maar wat seker is, is seker….ons kan baie kla.
En as jy wil, het enige iemand seker baie om oor te kla.
Maar wil ons, regtig?
Die Here wil hê ons moet uit dankbaarheid lewe.
Daarom is ‘n groet, wat regtig ‘n ander ingesteldheid het,
en wat ook dikwels gehoor word iets soos:
“Hoe gaan dit?” en dan “Baie om oor dankbaar te wees!”
En dan, nadenkend….

 

Die Israeliete het in Moses se tyd ook gekla soos ons.
In Numeri 11:5 lees ons:
“Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet,
ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel.”
“Komkommers” sinspeel nogal op mense wat in ons tyd sê
ons moet ons nie “komkommer” nie.
Maar juis omdat ons ons so baie “komkommer”, kla ons so baie.
Die fortuinsoekers wat saam met Israel getrek het,
was ook die eerste om te kla – vers 4.
Die mense wat eie belang altyd eerste stel, is ook die eerste om te kla.
En om te kla is hoogs aansteeklik.
Dit was nie lank nie, of die hele volk is opgesweep,
en vol kritiek teenoor die leiers, en die Here!
Die manna en die water wat die Here so wonderbaarlik voorsien het,
was nou nie meer goed genoeg nie. Nou begn hulle kieskeurig word.
Hulle vertrou nie meer die Here nie.
Hulle vergeet ook hoe sleg dit met hulle in Egipte gegaan het.

 

Ons laat toe dat “kla” ons vreugde steel. Dit is nie opbouend nie.
Dit dra nie by tot die oplossing en ware lewe nie.
Dit gee ons ‘n negatief-kritiese lewensingesteldheid.
En die ergste van alles, ons leef nie met oorgawe,
en uit dankbaarheid teenoor die Here nie.
Die Brief van Judas skryf spesifiek teen dwaalleraars en sê oor hulle in vers 4:
“Hulle misbruik die genade van ons God.” En in vers 16:
“Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot.
Hulle leef net volgens hulle eie begeertes….”

 

Hou op kla!
Al is alles nie soos ons dit wil hê nie, en al kry ons nie alles wat ons wil hê nie,
kan ons steeds dankbaar bly dat ons nie alles kry wat ons verdien nie.
Mag jy met dankbaarheid geseënd wees,
en jou lewe lank léwe!

 

Ernest