Galasiërs 6:3-5 sê:
“As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee,
begryp julle net mooi niks van die evangelie nie.
Gaan kyk ‘n slag goed na julle eie lewe.
Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het,
sonder om julleself gedurig met ander gelowiges te vergelyk.
Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.”
Moenie selfsugtig wees nie, en moenie jouself met ander mense vergelyk nie.
Ons werk nie as gelowiges met ‘n vergelykingsbeginsel nie.
Wanneer ons onsself met ander mense vergelyk sal ons of hoogmoedig wees,
of ons sal dink ons is nie goed genoeg nie.
Sulke “ek is nie goed genoeg nie” denke lei tot onvergenoegdheid.
Onvergenoegdheid met wie jy is en met wat jy het.
Jy sal nooit tevrede wees nie, want watter maatstaf jy ookal aanlê,
daar sal altyd iemand wees wat beter is, of meer het.
Gelowiges waardeer die uniekheid van elke mens.
Ons besef dat God elkeen na sy beeld geskep het.
En God het elke mens uniek geskep.
Hy wou ook spesifiek vir jou hier op aarde gehad het,
met jou unieke verwantskapsverhoudings waarin jy leef,
en met jou spesifieke gawes wat Hy in jou konteks wil gebruik.
Jy moet die wêreld en ander mense met jou uniekheid gaan verryk!
Snap jy dit?
Daarom moet ons mekaar help,
om ons uniekheid te waardeer,
en om mekaar se unieke self te wees!
Ernest