Galasiërs 6:8-10 sê:
“As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde,
sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant,
as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees,
sal jy die lewe as oes van Hom ontvang.
Kom ons hou aan om goed te doen.
Dit is presies wat die Here wil hê.
Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang.
Terwyl ons nog tyd oorhet,
moet ons elke geleentheid benut om goed te doen,
aan almal wat op ons pad kom….”
Kom ons hou aan om goed te doen!
Daar is sekere goed wat ons kan kies,
en ander wat ons nie kan kies nie.
Ons kan verseker kies hoe ons wil lewe!
Hierdie verse herinner ons aan ons keuse van hoé ons wil lewe.
William Wilberforce is na sy bekering deur Galasiërs 6:9
gedryf om aan te hou goed doen,
en om nooit moeg te raak om die goeie te doen nie.
The Message vertaal juis hierdie vers:
“So let’s not allow ourselves to get fatigued doing good.”
Wilberforce het besluit om hom te beywer
vir die afskaffing van slawehandel.
Hy het die een terugslag na die ander beleef,
maar nooit opgegee om goed te doen nie.
Uiteindelik is slawehandel,
na twintig jaar van sy ywer om goed te doen,
afgeskaf deur die Engelse parlement.
Tot met sy dood was hy bekend as die “gewete van Engeland”.
Kom ons hou aan om goed te doen!
Benut elke geleentheid om goed te doen,
aan elkeen wat op jou pad kom.
Ernest