Die somtotaal van God se wil is ‘n lewende verhouding met Jesus Christus.
Om in Jesus Christus te glo is om in die hart van God se wil te wees.
Geloof beteken egter nie dat ons kan leef soos ons wil nie.
God se “wedstrydplan” vir ons lewe is om gehoorsaam aan Christus te lewe.
Ons is geroep om te leef soos kinders van die Allerhoogste.
Toegewy aan die Here, onderwerp aan sy wil.

Maar wat nou as ons die spoor byster raak en sonde doen?
Daar is steeds vir ons goeie nuu;, selfs dán sorg die Here vir sy kinders.
In sulke tye is Christus steeds ons Voorspraak by die Vader.
1 Johannes 2:1:
“Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.
En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige,
as ons voorspraak by die Vader.”

Daarom moet ons al ons ongehoorsaamheid na die Here toe bring.
Hy alleen kan namens ons iets daarmee doen deur dit na die Vader te neem.
Hy kan elke keer tussen ons en die Vader kom staan,
en ons sonde met sy hemelse genade uitvee.
Daarvoor het Hy aan die kruis gesterf,
en ons eens en vir altyd God se kinders gemaak.
Jesus alleen is die hersteller van verhoudings tussen God en sy kinders.
Gaan na Hom toe met jou hele lewe.
Elke dag.
Doelbewus.

Ernest