Enige goeie span speel so goed soos wat die afrigter hulle toelaat om te speel.
Wanneer spanne goed speel, is almal gaande oor die goeie spelers.
Maar wanneer spanne begin verloor, kyk almal skielik na die afrigters.
En dan sê ons goeie spanne het altyd goeie afrigters.
Goeie afrigters laat elke speler optimaal speel.
Maar goeie afrigters moet ook ‘n goeie wedstrydplan hê.
Hy ken die spelers soos die palm van sy hand,
en benut hulle optimaal in hierdie plan.
God het ‘n volmaakte wedstrydplan in terme van sy wil met hierdie wêreld.
Sy wedstrydplan is gerig op die ewigheid, en werk vir altyd.
Sy plan sentreer rondom Jesus Christus.
Om in die wedstryd van die lewe as wenner te kan speel,
moet jy Jesus as Here ken en volg.
Hy is die spilpunt waarom alles draai.
God gee net deur Jesus Christus oorwinning in hierdie lewens-wedstryd.
Deur Jesus Christus reken God ons ons sonde nie langer toe nie.
God wil ook aan elkeen die oorwinning gee!
2 Petrus 3:9 sê:
“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so.
Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie:
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
God is die God van redding, nie die God van straf nie.
Straf is die allerlaaste wat God wil doen.
Dit is nie deel van God se hartklop vir ons nie.
God wil elke mens red!
En dit gebeur daar waar Jesus Christus as Verlosser aanvaar word,
en waar Hy gevolg word as Here.
Ernest