Dit is ‘n groot compliment,
wanneer iemand vir jou sê “Jy laat my regtig tuis voel”.
Dit vra baie meer as net woorde om iemand te laat tuis voel.
Dit help nie net om te sê “maak jou tuis” nie.
Baie mense sê dit, en jy voel allermins tuis.
Jy moet ook dinge doen om iemand te laat tuis voel.

Om Christus tuis te maak in jou lewe vra ook van jou aksie.
Johannes 14:23 sê:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem,
en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”
Woorde van aksie: Om lief te hê. Om God se woorde ter harte te neem.
As jy die vrug van die Gees elke dag in jou lewe uitleef,
sal Christus tuis voel in jou lewe.
Die vrug is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,
goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, en selfbeheersing – Gal. 5:22-23.

Mense sê dikwels van ‘n pragtige plek “It’s God’s own country”.
Dit beteken ons kan die hand van ons Skepper daarin sien.
En ons ervaar die teenwoordigheid van die Here daar.
Dit is iets hiervan wat Johannes sê, in ons teks.
Wanneer ons Christus gehoorsaam en die vrug van die Gees uitleef,
kan God se herskeppingswerk in Christus, en deur die Gees,
in ons lewens gesien en ervaar word.

Wanneer dit gebeur, kan gebeur wat met ‘n ateïs gebeur het.
Hy het van ‘n geestelike byeenkoms af teruggekom,
waar hy dit vir die spreker baie moeilik wou maak.
Maar hy het as ‘n nuwe mens teruggekom!
Almal wou by hom die rede vir sy ommeswaai weet.
Sy antwoord was:
“Ek het vir die eerste keer waarlik God in ‘n mens gesien en ervaar!”

Die drameskrywer George Bernard Shaw het gesê:
“As ek in Jesus Christus moet glo,
moet sy volgelinge meer gered leef en lyk.”
Leef elke dag soos Jesus geleef het,
sodat mense Hom in jou kan sien,
en Hom deur jou ervaar.

Ernest