In mislukkings, moeilike tye en verandering,
wanneer ons totaal buite ons gemak beweeg word,
moet ons God se getrouheid onthou.
As jy vir enige iemand vra watter sukses Dawid gehad het,
is die eerste ding waaraan die meeste mense dink sy konfrontasie met Goliat.
Dawid en Goliat se verhaal in 1 Sam. 17,
is seker een van die bekendste Bybelverhale, en kinderverhale!
Wat leer ons daaruit in terme van wysheid?
Wat wenners van verloorders onderskei,
is dat wenners fokus op wat hulle kan doen, of glo hulle kan doen.
Hulle fokus nie op wat hulle nie kan doen nie.
Hulle onthou ook in hierdie proses hoe God hulle telkens in die verlede gehelp het,
om juis die “onmoontlike “ te doen!
Dawid het geweet hy kan nie met Saul se wapendrag teen Goliat baklei nie.
Dit is glad nie hý nie. Hy sal veg met waarmee hy sukse behaal: sy slingervel.
Verder was almal verlam deur Goliat se grootte.
Maar Dawid sien Iemand raak wat groter is! Sy getroue God.
Dit maak die verskil. Hy onthou wat God in die verlede al deur hom gedoen het!
Meer mense misluk weens onkunde van hulle sterk punte,
as oor kennis van hulle swakhede!
En jou sterkste sterk punt is dit wat God deur jou wil doen,
binne elke uitdaging, waar jy Sy eer daarin soek.
Onthou in elke uitdaging waarvoor jy te staan kom, groot of klein:
dit wat nog altyd die grootste verskil gemaak het in jou lewe, was God!
Hy is ook die een wat dit steeds sal doen! Vertrou Hom daarvoor!
Geen wonder dat Dawid in Psalm 18 :30 gebid het:
“Met U hulp loop ek ‘n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur te hoog nie”.
Ernest