‘n Klein seuntjie het in die nag wakker geskrik van ‘n storm.
Hy het begin huil en sy ma het hom gaan troos.
“Moenie bang wees nie, jy weet mos dat Jesus jou liefhet.
Hy is hier by jou en sal jou beskerm al gebeur wat ookal”
Die seuntjie het geantwoord:
“Ja ek weet. Maar ek soek nou iemand wat my liefhet met ‘n vel om”.

Ons is Jesus se liefde in hierdie wêreld “met ‘n vel om”.
Ons is sy lig vir mense in die duisternis.
Daarom sê 1 Joh. 1:7:
“Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is….”
En Matteus 6:14:
“Julle is die lig vir die wêreld.”
God wil hê ons moet vir ons medemens Sý liefde wees, “met ‘n vel om”.
So word ons lewe ook deursigtig, en sien mense God en sý liefde raak.
So skyn die lig van God se liefde dan deur ons.
Om ‘n lig in die wêreld te wees, is om “ ’n vel om God se liefde” te wees.

Jy is nou God se oor wat hoor en doen.
Jy is nou God se oog wat sien en doen.
Sy mond wat die woorde van die Woord praat.
Sy voete wat gaan waar hy jou wil gebruik.
Sy hande wat sorg en dien.
Sy liefde kry “ ‘n vel om”.
So kom God se lig deur die krake van hierdie wêreld.
So skyn sy lig deur die krake van ons eie lewens.

Ernest