John Bunyan het die beroemde “Pelgrim se Reis” geskryf.
Daarin gaan dit oor ‘n reis wat ‘n Christen, Pelgrim,
na die hemel onderneem.
Op ‘n stadium voel Pelgrim die reis word heeltemal te veel vir hom.
Dan vra Evangelis vir hom:
“Sien jy daar anderkant ‘n hek?” “Nee”, antwoord Pelgrim.
Evangelis vra vir hom: “Sien jy daar anderkant ‘n lig wat skyn?”
“Ja, ek sien dit”, antwoord Pelgrim.
Toe sê Evangelis:
“Hou jou oog altyd op daardie lig,
en stap altyd in die rigting daarvan.
Dan sal jy die hek sien.”

Hou altyd jou oog op die lig van Jesus wat die lig vir die wêreld is.
So bly jy op die pad van God.
Ons moet, as lig vir die wêreld, gereeld by die Bron van die lig uitkom.
Meer nog, ons moet deurlopend leef in die lig van die Here.
Dan gebeur met ons wat met Moses gebeur het:
“Sy gesig het blink geword terwyl die Here met hom gepraat het.”
Elke keer wanneer Mose by God was,
het sy gesig helder geskyn, en almal kon dit sien.

Iemand het gesê:
“Light never battles darkness, so whenever you see a fight,
it is always between two dark forces.”
God het reeds in Christus die duisternis verdryf.
Die Bose is finaal verslaan!
Daarom kan en moet ons in die lig lewe.

Wil jy ook hê die Here moet so in jou lewe sigbaar wees?
Meld dan deurlopend by Hom aan,
met opregte gebed en toewyding aan Hom.
Kom in sy teenwoordigheid met die gesindheid van
‘n wonderlike aanbiddingslied wat ons gereeld sing:
“So here I am to worship, here I am to bow down.
Here I am to say that You’re my God!
And You’re altogether lovely, altogether worthy,
altogether wonderful to me.”

Ernest