Hoe meer slegte ervarings party mense langs die lewenspad beleef,
hoe meer negatief krities raak hulle oor die héle lewe.
Naderhand kom hulle dit nie eers agter dat hulle so is nie.
En die ergste van alles is dat ék een van hulle kan wees,
en dink die léwe is so, en nie ék nie.
So raak jy ‘n donker put vol swartgalligheid en bitterheid.
Foutvind met alles word jou lewenswyse.
Jy het net die vermoeë om alles te sien wat “verkeerd” is.
Van die kelner wat jou bedien, en net uit fooitjies verder probeer swot…
tot die politieke leier wat jou belasting mors…
Jy onthou elke nuwe korrupsievoorval en misdaad in detail…
Jy sien net die afgrond waarheen die land op pad is….
Jy onderbreek ander as hulle van die mooi dinge vertel,
en jy sê hulle moet realisties wees en nie in ‘n droomwêreld leef nie.
En jy mis soveel dinge wat “reg” is! Mooi dinge in die lewe.
En mooi mense rondom jou, wat God daar plaas om jou lewe te verryk.
En waar God jou plaas om hulle lewe te verryk.
Is jy ‘n afbreker, of ‘n opbouer?
Watter verskil maak jy op jou rusbank?
Wat nog slegter is, is dat gelowiges, met die núwe lewe in hulle,
hierdie nuwe lewe so deur die modder sleep!
So afbrekend negatief is!...en ander gelowiges saam met hulle meesleur.
In Jeremia se tyd was daar al mense wat so opgetree het.
En dan sê Jeremia 5:1:
“Loop op en af in die strate van Jerusalem, kyk rond en let op;
gaan soek op sy pleine of julle daar iemand kry wat reg doen,
wat die waarheid soek. Dan sal Ek Jerusalem se sonde vergewe.”
‘n Verandering van lewensingesteldheid.
Nêrens op aarde is daar ‘n volmaakte Utopia nie.
Die lewe is nie regverdig nie, en dikwels hard, oral.
Of dit nou hier is, of daar, of daar doer onder…
Die gras is net groener anderkant die draad tot jy daar begin wei.
Die oplossing tot geluk is nie geleë in ons omstandighede nie.
Geluk, vreugde, vrede, loop hand aan hand met ‘n nuwe kyk na die lewe,
en veral na ál die mense rondom jou,
en in besonder elke mens met wie jy te doen kry.
Begin om deur die oog van Christus te kyk.
Dan word jy ‘n verhouding-hersteller en ‘n opbouer van mense.
Dan sien jy orals sade van hoop wat kan groei en vrug dra.
Dan sien jy lig deurbreek in die krake wat jy altyd raaksien.
En jy word ‘n verspreider van hoop!
Jy begin nou hooploses vul met hoop!
Jy gaan haal mense uit die donkerte,
en stel hulle bloot aan Christus se genesende lig!
Dit is mos wie jy in Christus is!
Jy is lig, en sout, en suurdeeg!...vir die Here!
Kom nou!
Wees wie jy in Christus is!
Verander jou uikyk op die lewe!
Lééf!
Ernest