Galasiërs 6:2 sê:
“Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”
Met hierdie vers verwag die Here nie van ons om alles vir almal te wees nie.
Ons moet egter daar wees vir die wat ons moet dien met die liefde van die Here.
As daar te veel mense in ons lewe is aan wie ons aandag moet gee,
kan ons inderdaad ly aan verhouding-uitbranding.
Ons loop naderhand baie wyd, maar baie vlak.
Ons moet egter nie ‘n verskoning soek om mense te vermy nie,
maar met die wysheid wat die Gees gee, by mense betrokke wees.
Robert Dunbar, ‘n Britse navorser, het ‘n interessante rigtingwyser gegee.
Hy het deur die geskiedenis voorbeelde aangetref van die feit dat die gemiddelde
persoon net met sowat 150 mense verhoudings kan handhaaf.
Dit sluit familie, vriende, kennisse, kollegas en “ander” mense in.
Van antieke stamme tot basiese gevegseenhede in die Romeinse weermag,
was nooit meer as ongeveer 150 mense nie.
En dan het hierdie groepe ook nog sowat 42%
tyd aan sosiale verhoudingsbou bestee.
As daar te veel mense in ons lewe is aan wie ons aandag moet gee,
ly ons uiteindelik aan verhoudings-uitbranding.
Ons raak kortaf, onvriendelik en geïrriteerd.
Dan is daar ook nog mense wat ons gedurig soos ‘n slagoffer laat voel.
Mense wat ons om een of ander rede manipuleer om aandag te ontvang.
Hulle laat ons gedurig voel ons skiet tekort,
omdat ons hulle eenvoudig nooit tevrede kan stel nie.
So word ons uiteindelik emosioneel misbruik.
God verwag nie van ons om in emosionele afhanklikheid
van ander mense te leef nie, maar afhanklik van Hóm te leef.
Ons is daar om mekaar op te bou, nie af te breek nie.
Wanneer ons regtig moeite doen in ‘n verhouding,
en iemand is net nooit tevrede nie,
en tree manipulerend teenoor ons op,
dan is so ‘n verhouding “toksies” en dit brand jou uit.
Ons moet dus onderskei wie “martelare” is,
wat ons gedurig laat voel óns en die wêreld skuld hulle iets.
Ons word in sulke verhoudings aangehou as slagoffers.
Maar hoe nou gemaak met sulke mense?
Bid vir hulle.
Dit is nie maar ‘n laaste uitweg nie, maar die belangrikste weg.
Wees met die liefde van die Here eerlik en reguit met hulle oor hul probleem.
Probeer om vir hulle professionele hulp te kry.
Maar moenie deur hulle gemanipuleer word nie.
Dra mense se laste, soos Galasiërs 6:2 sê,
maar nie hul onverwerkte skuldgevoelens wat hulle bly koester,
sonder om iets daaraan te doen nie.
Die Here het nooit bedoel dat ons die gevangene moet wees nie,
van geen mens nie!
Ernest