C.S. Lewis, die bekende teoloog en Christendenker,
vra in sy boek “The Problem of Pain”,
of die wêreld regtig op soek is na die Vader in die hemel.
Mense is veel eerder op soek na ‘n hemelse “oupa”,
wat sorg dat almal hier op aarde ‘n goeie tyd het en alles geniet.
God moet net altyd goeie dinge uitdeel tot ons voordeel.
Maar intussen moet Hy ook al die skuld vat,
vir dit wat in mense se lewe verkeerd loop,
mense wat Hom in elk geval nie met oorgawe dien nie.

Baie mense het die naïewe idee van ‘n universele godheid,
wat voortdurend net ons selfsugtige begeertes en wense moet vervul.
Vir die res moet Hy bietjie eenkant toe staan,
sodat ek my lewe kan leef soos ek verkies.
Verseker is hierdie nie die Vader-God waarvan die Bybel praat nie.
God is nie daar om te sorg vir my maanskyn en rose nie.
C. S. Lewis sê pyn en lyding is juis deel van die lewe,
dikwels God se megafoon om ons wat stokdoof vir sy wil geword het,
te laat hóór, en gehoorsaam te laat lééf.

God is verder deur Christus aktief en direk in die wêreld aan die werk.
God se wil is om verlorenes bymekaar te maak met sy reddingsplan,
in Christus, deur die Gees. daarvoor het Hy Christus na die wêreld gestuur.
En ons roeping is om deel daarvan te wees! Dít is waarvoor jy kind van God is!
Om mense wat besig is om te verdrink op te tel, en op droeë grond te sit.
Jesus het ook nie gekom om mense tevrede te hou nie.
Ook Hy is nie ‘n onskadelike figuur wat ons so nou en dan kan gaan opsoek nie.
Ook Hy is die Rots wat God op aarde kom neersit, sê Rom. 9:33:
“Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens struikel,
‘n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.”
Wie nie God se wil uitleef nie, en leef asof die Here hier is “om ons te dien”,
stamp hom te pletter teen die Rots van Sion.

Jesus is die Here!
Hy is die Koning van die hemel en die aarde!
Hy het nie gekom om ons wil te doen nie….
Hy het gekom om die belangrikste ooit te doen.
Dit wat ons ook moet doen.
Dit is om Gód se wil te doen!

Ernest