Lees verseker Matteus 8:18-22.
Dit is duidelik dat ons nie vir Jesus volg vir ‘n goedvoel-ervaring nie.
Jesus se woorde “Volg My…” is nie liggewig woorde nie.
Dit is nie vir bewonderaars bedoel nie, maar vir dissipels.
Ons kan nie Jesus op ‘n afstand volg, ter wille van ons eie voordeel nie.
Dan sal ons eenvoudig omdraai as die pad steil raak.
En, om Jesus te volg is dikwels ‘n steil pad in hierdie wêreld.
Leonard Sweet en Frank Viola skryf ‘n aangrypende boek, “The Jesus Manifesto”.
Hulle skryf dat van die 100 topverkoper-boeke van die Christian Booksellers Association,
in ‘n sekere tydperk, meer as 50% oor die familie en gesin gehandel het,
terwyl die res oor die self gehandel het.
Slegs ses boeke in die topverkoper kategorie het oor die Bybel gehandel.
Vier boeke het direk oor Jesus gehandel, en drie oor evangelisasie.
Dus: “Personal, private and interior” het die nuwe soort geloof geword.
Selfgerig op ‘n goedvoel-ervaring, “polities korrek” om nie in te meng met ander nie.
Die groot opdrag van die Here speel nou meer en meer tweede viool.
As geloof inderdaad in ‘n goedvoel-ervaring,
of in ‘n geestelike selfverbetering-program verander,
dan is óns in groot moeilikheid.
As God net veiligheid, gesondheid, en die materiële,
moet waarborg, dan mis ons die ware evangelie.
Jesus is nie teen hierdie dinge nie.
Maar Jesus se pad is nie gerig op sulke “byvoordele” nie.
Sy roete is die van kruisdra, verlies van status en eer,
en grense van jou gemaksone oorsteek, ter wille van die evangelie.
Dit is om Jesus se pad enduit agter hom aan te stap.
Jesus het niemand wat self aangebied het om Hom te volg,
aangemoedig om dit te doen nie. Inteendeel.
Jesus het voornemende navolgers juis beveel om die prys vooraf te bereken.
Wanneer Jesus in Lukas 10 die 72 volgelinge uitstuur,
hoor hulle by Hom dat dit geen gemaklike roete gaan wees nie.
Geloof kos alles. Regtig.
Dit vra jou lewe, jou lojaliteit, jou tyd, jou hele hart, siel, en verstand.
Volg Jesus op sý terme.
Dan gebeur God se wil in jou lewe!
Ernest