Jesus jubel sy blydskap uit, teenoor sy Vader,
wanneer sy volgelinge terugkom, na hulle God se wil gedoen het,
en hulle die gevolge daarvan gesien het.
In Lukas 10:21 lees ons:
“By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel:
“Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde,
dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het,
en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het….”

God Drie Enig is in blydskap oor gelowiges wat sy wil doen!
Jesus jubel dit uit, teenoor die Vader, deur die Gees!
Doodgewone mense snap God se wil en doen dit!
Dit gaan oor God en sy vrede, in Christus, deur die Gees.
So eenvoudig is die evangelie dat elkeen dit kan snap en dit kan doen.
Dit is God se plan en God se doel, sê Jesus verder in die vers as Hy bid:
“Ja, Vader, so was dit U genadige bedoeling.”

Ons het nie ‘n hoë IK nodig om God se wil te verstaan en dit te doen nie.
Ons het nie teologiese opleiding daarvoor nodig nie.
God se boodskap is duidelik. Jesus is God se wil, en Jesus doen God se wil.
En ons moet eenvoudig as dissipels van Jesus in sy voetspore loop.
Jesus is God in aksie.
Hy stort hemelse redding uit aan elkeen wat genade by Hom pleit.
So eenvoudig en wonderlik is die evangelie.
Maak God se blydskap groot.
Volg Jesus en doen so God se wil.

Ernest