Dikwels is dit een van die moeilikste dinge vir mense om te doen.
Om te erken dat jy skuldig is.
Om vergifnes te vra.
Om verskoning te vra.
Dit geld nie net ten opsigte van jou medemens nie,
maar veral ten opsigte van die Here.
Ons gee selfs die Duiwel die skuld,
maar aanvaar nie self verantwoordelikheid vir ons dade nie.
Hoewel die Bose jou versoek, is jy nog steeds die een wat die keuse uitoefen.
Spreuke 28:13 sê:
“Wie sy sonde wegsteek, moet niks goed te wagte wees nie;
Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.”
Baie mense besef nie dat hulle eintlik hulle eie grootste vyande word,
deurdat hulle ander vir hulle foute blameer, in plaas van om self skuld te erken nie.
1 Konings 21 vertel van koning Agab wat ‘n wingerd wou hê, wat aan Nabot behoort het.
Nabot wou nie die wingerd verkoop nie.
Agab se vrou het toe gereël dat Nabot doodgemaak moet word.
So sou koning Agab dan die wingerd kon oorneem.
Alhoewel Agab slegs toegelaat het dat sy vrou die bevel onderteken,
het hy nie sy vrou beskuldig toe hy oor die daad gekonfronteer is nie.
Hy het dadelik skuld erken, berou en hartseer getoon,
die verantwoordelikheid aanvaar, en ‘n genadige vryspraak ontvang.
Wanneer ons verkeerd doen,
is dit beter om dadelik na die Here toe te gaan met ons sonde.
Hy weet ook reeds daarvan!
Ons hoef nie die nuus aan Hom te breek nie.
Dit maak dit juis makliker!
Meer nog, Hy nooi ons uit om die saak met Hom te kom uitmaak!
Erken jou sonde.
Bely dit met opregte berou,
en met die doel om daarvan aft e sien, Spreuke 28:13,
en vra die Here om jou te vergewe!
Dit help nie om alles en almal te blameer vir die keuses, foute,
en sonde wat jyself maak nie.
Ons sal soveel groei as ons leer om te sê:
“Dit is my fout. Dit is my oortreding. Dit is my sonde.
Ek is skuldig. Ek is jammer. Ek vra vergifnes.”
Ernest