Efesiërs 1:3 sê hierdie treffende woorde:
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees
wat daar in die hemel is.”

 

Die Boodskap vertaal die vers:
“Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus,
te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus sin is, het God ons –
wat eintlik niks was nie – baie belangrik kom maak.
Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee,
wat by God die moeite werd is vir ‘n mens om te hê.”

 

“Laat ons nie ophou om God,……. te loof en groot te maak nie….”
Wat is “al die seëninge van die Gees”, waarvan Paulus hier praat,
en waarvoor ons nie kan ophou om God te loof en groot te maak nie?

 

Ons lees 7 seëninge hier raak.
Die eerste staan in vers 4:
Hy het ons, wat aan Jesus Christus behoort,
gekies nog lank voor die wêreld gemaak is! God kies ons!
Dit is nie ons wat God eerste gekies het nie.
Ons is God se geliefdes. Ons kan dit nie verklaar nie. Ons kan nie daaroor spog nie.
Hy kies jou op grond van sy liefde, sê die eerste deel van vers 5,
en geen prestasie van jou kant af nie.
Jy het nie eers goed genoeg geword, en toe kies Hy jou nie…

 

Die tweede seëning is in vers 5:
Hy het ons sy kinders gemaak. Ons word gekies om God se kinders te wees!
God het jou in Christus geseën met die seëning van die Gees, om sy kind te wees.
Ons is nou, in Christus, aangenome kinders van God.

 

Die aangenome kind het dit so aan sy maats verduidelik:
“Weet julle wat is die verskil tussen aanneming en geboorte?
My twee broers het in my ma se baarmoeder gegroei,
maar ek het in my ouers se hart gegroei.
Daarom is ons drie ewe spesiaal vir hulle.”
God het jou in Christus as sy kind aangeneem. Jy is in sy hart!
Jy kan Hom Abba Vader noem! Jy is deel van God se familie!
Daarom is jy baie spesiaal vir God.
Hy het jou geseën met hierdie seëning van die Gees!

 

Ernest