Efesiërs 1:4 sê die eerste seëning wat God skenk,
deur die Gees, is om ons te kies! Voor ons Hom kan kies.
Ons sou Hom nooit eerste kon kies nie.
Die tweede seën van die Gees is in vers 5.
God maak ons deur Christus en die Gees sy kinders!

Die derde seën van die Gees is in vers 6: God se genade!
Ons moet vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is,
en wat Hy alles gedoen het. Ons het niks verdien nie,
maar God het dit verniet vir ons kom gee.
Jesus, vir Wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur!
Vers 6: “Daarom moet ons God prys vir sy groot genade,
wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het”.

Die vierde seëning van die Gees is in vers 7:
“Dit was soos ‘n handelstransaksie: omdat ons so sondig was,
was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is,
om weer alles tussen ons en God reg te maak.
Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel,
tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan.
Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal,
wys net hoe werklik goed Hy vir ons is.”
Daar is eenvoudig geen einde aan God se goedheid vir ons nie.
As jy wonder waarom God so goed is, sê Paulus,
kan hy maar net sê dat God weet wat Hy doen. Hy weet alles!

In verse 9-10 van Efesiërs 1 vind ons die vyfde seën van die Gees:
God het besluit om ons ook te laat verstaan waarom Hy besluit het
om Jesus te stuur om alles te kom doen wat nodig was.
Dit was eintlik eers net God se geheim wat mense glad nie verstaan het nie.
Maar nou besef ons waarom dit gaan, omdat God graag wil hê dat ons dit moet weet!
Hy sal alles bymekaarbring, soos dit met die skepping bedoel was.
En Jesus sal oor alles regeer!
Ons besef nou God hou die hele wêreld in sy hand.
Elke stukkie geskiedenis skuif ons nader aan die wederkoms.
En dan sal elke knie voor Jesus Christus die Here buig!

Ernest