Die sewende seëning van die Heilige Gees wat daar in die hemel is,
en waarmee ons geseën word, vind ons in Efesiërs 1 vers 14:
“Die Heilige Gees is soos ‘n merk wat God julle laat dra,
om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is.
Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het
om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het.
Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee.
Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak.
Laat ons vir almal vertel hoe groot God is!”
Die nuwe vertaling vertaal:
“Die Heilige Gees is die waarborg,
dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het….”

Hierdie sewende seën van die Gees,
verseker ons dat ons erfgename van God is!
Ons ontvang alles wat God belowe het!
God het niemand anders as die Heilige Gees aan jou gegee,
om jou hiervan te verseker nie!
Hy is die waarborg dat jy alles sal ontvang.
Hy is die versekering dat God sal afhandel wat hy belowe het!
Die Heilige Gees wat in ons woon, en ons Leermeester is,
is ons waarborg dat God ons beslis in Christus vrygekoop het,
en dat ons ryklik geseën is met al die seëninge van die Gees,
wat daar in die hemel is!

In die Grieks is Efesiërs 1:3-14 een lang sin met 220 woorde!
Paulus is so opgewonde dat hy bykans nie asem skep nie,
en nie tyd het om iewers ‘n komma of ‘n punt in te sit nie,
om ons te vertel van die omvang van die seëninge van die Heilige Gees,
wat daar in die hemel is!
En ons word daarmee geseën!
Laat ons dit uitleef en vir almal vertel hoe groot God is!

Ernest